top of page

3 Januarie 2022. Weeklikse Manna en Gebedsversoeke.

  • Writer: missions3
    missions3
  • Jan 1, 2022
  • 5 min read

Gebednet.



Weeklikse Manna en Gebedsversoeke.


3 Januarie 2022.


Liewe Vriende.


“En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie." {Mattheus 22:12.}


Dis nié nodig om ‘n vername mens of ‘n vooraanstaande persoonlikheid te wees om aan die feesmaal deel te neem nie. Jesus verseker ons in hierdie gelykenis dat Hy Sy gaste versamel vanuit die strate en gangetjies ... armes, verminktes en kreupeles word genooi.

• arm a.g.v. sonde

• vermink deur misdade en inwonende bederf

• kreupel geslaan deur die sondegebroke lewe

Maar die gelykenis bring ons ook tot die belangrike ontdekking dat die gaste nie sommer kan gaan aansit soos hulle wil nie. In die ooste was dit daardie tyd die gewoonte om by die ingang van die paleis feesklere uit te deel, as ‘n uitnodiging na die koningsmaal ontvang is - sonder dié deftige kleding kan niemand die feesmaal binnegaan nie.

Vir ons waarskuwing vertel die Here Jesus van dié man wat dit tog gewaag het met sy straatpakkie.

• Hy het met sy eie klere gekom

• Net soos hy is, is hy goed. Só het hy gemeen

• Miskien het hy die hele gedoente oneerlik gevind - ‘n klomp agterbuurt-mense en ridders van die grootpad wat daar by die koning met ‘n klomp geleende vere gaan pronk!

Hy gaan eerlik wees - hy gaan geen masker opsit nie - hy gaan aansit soos hy is! En ons het gelees wat die uitslag was: hy is uitgegooi in die diepste duisternis daarbuite.

Soos ons is, is ons nie waardig om na die bruilofsfees te kom nie. Ons moet dit nie waag om met ons eie klere te kom nie. Ons praat nie hier van ‘n Foschini rokkie of Edgars pakkie nie -

• een wil kom met sy vroomheidspakkie.

• nog een wil kom met sy kerklike meelewing, getroue kerkbywoning, voorbeeldig bydrae, goeie Bybelkennis.

• Daar is ook die misverstand dat ‘n mens met jou sondepakkie toegang tot die fees het.

Ons moet dus met geleende klere feesmaal toe gaan. Geen fees sonder ‘n bruilofskleed nie. Die vraag is dus nie: Is jy waardig om aan te sit nie? Niemand van ons is waardig nie! Wat wel die vraag is, is of ons die bruilofskleed aangetrek het. Dit is die kleed wat Jesus Christus vir Sy gaste berei het.

• Die kleed is deurweek met Sy smart en dood en bloed.

• Met Sy gehoorsaamheid en geregtigheid.

Wie tot die koninkryk van die Genade geroep word, mag kom, so ellendig as wat hulle is. Dis nie oneerlik of vertoon om as ‘n sondaar hier aan te sit nie, maar dan moet hulle die kleed aanvaar wat uitgedeel word. Hierdie aanvaarding van die Christuskleed vind plaas deur die geloof!

• Wie skaam is vir sy vodde klere.

• Wie die hand uithou na die bruilofskleed van Christus.

• Wie dankbaar besit neem van wat Christus uit genade skenk.

• Wie Sy kleed inderdaad aantrek en nie net by geleenthede aantrek en daarmee spog nie.


Hulle kan aansit, want dan het hulle die bruilofskleed aan!

As die Koning se oë dan oor sy gaste gaan, soos hulle hier ry aan ry sit, sien hy nie daardie gelapte flenters van ons lewe nie ... Hy sien die mantel van Jesus Christus se geregtigheid om ons skouers!


Dis die wonder van die Christus Fees Maaltyd. ‘n Klomp bedelaars, boemelaars, armes, kreupeles en blindes by ‘n Koningsmaaltyd! Maar deur die kleed van Jesus Christus wat hulle deur die geloof ontvang het, is hulle naaktheid bedek. Daarvoor is Jesus Christus Gebore en het HY ook Sy lewe vir ons afgelê sodat ons die Bruilofskleed kan aantrek.


Gebed : Here, dankie dat U my uitnooi na die feesmaal in 2022 en ek in my bruilofskleed kan aansit by die feestafel! AMEN


Die Weeklikse Manna en Gebedsversoeke is ook op die internet beskikbaar. BESOEK GERUS die volgende WEBWERF:https://lourensministries.wordpress.com


Gebedsversoeke om voor die voete van Vader te lê:

  1. Ons wêreld. Regoor die wêreld staar mense baie uitdagings in die gesig – van oorlog tot misdaad en armoede. Baie leef met onsekerheid en het geen hoop vir die toekoms nie. Bid dat terwyl baie mense om hulp roep, God hulle sal hoor en hul gebede volgens Sy wil sal beantwoord en dat baie sekerheid en hoop in Hom sal vind.

  2. Suid-Afrika.Ons land het baie uitdagings oor die laaste twee jaar gehad, veral vanweë Covid-19. Bid dat ons leiers ons land vorentoe met wysheid sal lei. Bid dat God die regte leiers op die regte tyd sal oprig om ons nasie te lei tot alles wat God ons geroep het om te wees.

  3. Kenia.Malia* se familie het haar in ʼn huwelik met ʼn ouer Moslem-man gedwing. Sy het swanger geraak en weggehardloop omdat dit ʼn misbruikende omgewing was. Bid dat Malia sterk in haar geloof sal groei en dat sy haar dogter sal grootmaak om Jesus te ken en lief te hê.

  4. Guinee. Prys God vir Patrick en sy familie, wat ten spyte van vervolging in hul dorpie bly om Sy getuies te wees. Bid dat die Here Patrick en sy familie sal beskerm teen dié wat teen hulle saamsweer en dat dit ʼn kragtige getuienis vir Jesus Christus sal wees.

  5. Iran.Verlede jaar het die verkiesing van die nuwe president, Ebrahim Raisi, ʼn samesmelting van mag deur die konserwatiewe en onversoenbare groepe meegebring. Dit is moeilik om te voorspel watter uitwerking dit op die land en die Kerk sal hê, maar ons verwag dat dinge nie makliker vir Christene gaan word nie. Bid vir die Here se volgehoue krag vir die Kerk in dié land.

  6. Suidelike Filippyne. Regeringsamptenare het Hameed gekies om ʼn gemeenskapsontwikkelingprojek vir sy mense te help bestuur. Hy het nie besef dat mense na Islam sal moet omskakel om daardeur gehelp te word nie. Bid dat Christene nie sal toegee vir tydelike voordele nie.

  7. Sentraal-Afrikaanse Republiek. Charlotte (12) se pa het gedreig om haar aan te rand of dood te maak omdat sy ʼn Christen geword het. Hy wou haar ook dwing om met ʼn 45-jarige Moslem-sakeman te trou. Haar kerk het besluit dat die veiligste is om haar te help om na ʼn tante te vlug. Bid dat God sal aanhou om vir haar gasvrou se familie te voorsien.

  8. Aanlyn Saai. Ons het 'n aanlyn platform oopgemaak waar vinnig, maklik en veilig gesaai kan word. Besonderhede hieronder. Bid asseblief dat dit vrugte sal afwerp want huidiglik ontvang ons net 30% van ons totale begroting en het dit 'n negatiewe uitwerking op al die sending aktiwiteite. Hierdie is net 'n ekstra en kan u nog steeds die onderskeie bank rekeninge gebruik.

*Name is weens sekuriteitsredes verander.Alle inligting was korrek teen druktyd.


Groete in Jesus Christus. Wonderlike Week vir elkeen.

Johan Lourens


N.S. Druk gerus asseblief hierdie Manna uit en plaas op u gemeente se kennisgewingbord.


Ministry Projects and Services.

  1. Daily Intersession and Prayer. https://missions3.wixsite.com/gennesaret-ministry

  2. Internet counseling and coaching. https://missions3.wixsite.com/gennesaret-ministry

  3. Weekly Devotions, https://lourensministries.wordpress.com & https://missions3.wixsite.com/gennesaret-ministry/blog

  4. National Director for Change a Nation. https://missions3.wixsite.com/gennesaret-ministry

  5. Prophetic Ministry. https://missions3.wixsite.com/gennesaret-ministry

  6. Marriage Preparation. https://missions3.wixsite.com/gennesaret-ministry

  7. Leadership training-Africa Countries.{Malawi, Kenya, Zambia & Mozambique} https://missions3.wixsite.com/gennesaret-ministry


Revival is when God's people return to God, and God returns to them, and everyone sees the difference. - Henry Blackaby.


Please visit the prayer postbox at: https://missions3.wixsite.com/gennesaret-ministry


Website:https://missions3.wixsite.com/gennesaret-ministry

P.O.Box 144, Strand, 7139.

Cell:083 4606 914.


For quick support of the ministry for as little as R50 please click on the following link for an online donation. Just R50.

Giving is not just about making a donation. It is about making a difference.


You can also deposit donations via Capitec Cellphone Banking just use Cell Number: 0786746125.

 
 
 

Kommentare


Committed to Bringing Glory to His Name
  • Whatsapp
  • Telegram
bottom of page